Tweemaal geleef

Die man is vannaand lus vir praat, en al sit ek reg oorkant hom praat hy nie noodwendig met my nie. Ek laat hom maar begaan.

“Skryf maak dit beter, ten minste vir nou. Wat vanaand beter maak in die anonieme spasie van die bieghokkie, laat jou more weerloos voel in die helder lig van dag. Weerloos is nie lekker nie, weerloos laat jou ongemaklik en bedreig voel. Weerloos laat jou inskrywings en selfs hele blogs uitvee. Poef! Weg. Asof jy met die druk van daai knoppie die letsels op jou siel ook wil uitvee. Dit werk nie, en bieg is nie bieg as jy dit doen waar slegs jy kan hoor nie.

Die waarheid oor slegte ervarings, die soort wat letsels op jou siel laat, is dat jy hulle altyd tweemaal leef. Die eerste maal wanneer die letsel gelaat word, en die tweede maal wanneer dit weer gesond gemaak moet word. Die probleem is egter dat ons somtyds nie eers bewus is van daardie letsels tot dit hopeloos te laat is nie, en natuurlik maak die gesondmaakproses net soveel – en soms meer- seer as die oorspronklike besering.

Lank voor ons bewus was van ding ding in my kop het ek al op een so reis vertrek. Ons het die ding george gedoop, want jy kan nie teen iets baklei wat nie ‘n naam het nie. Met ‘n rits anonieme avatars as my sielkundiges en ‘n blog as my leerbank het ek begin terugstap in my eie lewe op soek na waar alles so verskriklik skeef geloop het. Ek vermoed ek kom nou naby die einde, kon eintlik al daar gewees het as dit nie vir george en die gesukkel om swanger te raak was wat die aandag afgelei het nie. Dalk was dit as gevolg van george wat die insigte gekom het. Dit maak seker nie regtig saak nie.

Ek dink hulle was tog op een of ander manier of tydstip lief vir mekaar en vir ons, dis nou Pa en Ma. Maar ek dink ook hulle was dalk nie reg vir mekaar nie. In die proses het hulle al drie hulle kinders, elkeen op sy eie manier, onbewustelik die wêreld ingestuur met meer nuttelose bagasie as wat nodig was.

Pa was super intelligent, maar hy was ‘n eiland. Hy het nie geweet hoe om uit te reik na ander mense toe nie. Hy was ‘n totale introvert as gevolg van sy eie geestesletsels wat hy met hom saamgedra het. In 1945 was ‘n ongewensde swangerskap ‘n baie groot taboe. Hy het geglo dat hy slegs die ongevraagde produk van 5 minute van sy pa (my oupa) se plesier was, versterk deur die feit dat oupa hom gereeld daarop gewys het as hy die ou man teleurgestel het. Ma was ‘n plattelandse meisie, vreeslik sosiaal maar met geen ander ambisie as om kinders groot te maak en naweke om te kuier met familie en vriende nie. Hulle kon nie met mekaar kommunikeer nie want daar was bitter min raakvlakke.

En toe kom ek. Ma was nie voorbereid op ‘n koliekbaba nie. Pa het later erken hy was bang om werk toe te gaan omdat Ma telkemale gedreig het om my van die balkon af te gooi van die vierdevloer woonstel in Arcadia waar ons gebly het. Hulle het toe al baie baklei, maar dit onthou ek nie. Ek was twee jaar oud toe ons na ons grootword huis toe getrek het, vier toe my sussie gebore is. Ek was toe al groot genoeg om te verstaan. Die dinge wat hulle mekaar toegesnou het, sommer so in die geselskap, was nie mooi nie. Ek verstaan nou dat Pa ongelooflik gefrustreerd moes gewees het, Ma seker ook vir haar eie redes. Klipdrift het Pa se frustrasies verlig, ‘n konstante gekyf Ma s’n.

In die week was dit soortvan draaglik. Daar was skool en maaitjies en dinge om te doen na skool. Maar as die son gesak het en die rooi bus van Pelindaba het vir Pa op die hoek afgelaai het my gemoed ook soos die son gesak. Die take wat ek wel gedoen het was net nooit goed genoeg gedoen nie, dikwels is ek sommer ook gestraf vir dinge wat ek kwansuis moes doen, maar nooit opdrag gekry het om te doen nie. Enige kattekwaad wat sussie gepleeg het is ook van my gatvelle verhaal. Die oudste moet mos kyk! Naweke was egter die grootste nagmerrie, van dit is dan wanneer Pa vasgehaak het by klipdrift. Wanneer die dapperdruppels dan goed getrek het het hy begin om die meubels om te keer, somtyds om sommer vir my en Ma ook om te keer. Altyd net vir ons, nooit het hy aan sussie of later aan kleinboet geraak nie.

Wanneer hy in die garage gewerk het moes ek altyd daar wees. Seker maar om te dien as iemand om te blameer wanneer dinge verkeerd geloop het, wat gewoonlik gebeur het as gevolg van die inmenging van groot hoeveelhede klipdrift. Dan, soms uit die bloute was ‘n regte Pa wat lekker goed saam met sy seun gedoen het. Ek het dit opgeslurp want jy kon nooit weet wanneer die wind weer draai nie. Later het ek geleer om nie die korstondige stiltes in die oog van die storm te vertrou nie. Nou, met die voordeel van terugblik, is dit seker nie snaaks dat ek bed natgemaak het tot amper in standerd drie nie. Die sielkundige waarheen hulle my geneem het, het sake net vererger. Hoe verloën ‘n 9 jarige sy ouers deur vir die oom dokter te vertel hoe bang hy is as dit begin aand word? Jy ouers is immers jou ouers. Pa het my sielkundige besoeke later gestaak, en wonder bo wonder het die bednatmaak ook gestop. Tot vandag toe het ek egter ‘n erge aversie vir sielkundiges, wat natuurlik die gesondword proses erg in die wiele ry.

Ek was agtien toe alles een dag oopgebars het. Ek het weer ‘n kopklap vir geen rede gekry nie en ek het teruggeslaan met die vuis…en ons het in ‘n woeste vuisgeveg betrokke geraak. Ma het geskreeu en geskreeu tot die buurmense haar gehoor en ons uitmekaar gemaak het. Daarna het ons nog eenmaal gepraat en dit het ook op ‘n vuisgeveg uitgeloop. Toe gaan ek weermag toe.

Ek het elke week ‘n brief huis toe gestuur. Pa het betrokke geraak by ‘n kerklike selgroepie en hy het binne enkele maande ‘n 180 grade omkeer gehad. Ons het weer begin praat, regtig begin praat vir die eerste keer in my bestaan. Hy is dood voor ek klaar was met my diensplig, voor ek kans gehad het om jammer te sê.”

Die man lyk of hy homself losskud uit sy mymerings uit en lyk half verbaas oor my teenwoordigheid. “Dit is maar hoe mense gebuig raak, en ek wis nie of dit gefieks kan raak nie”

Hy is skielik selfbewus. “Kom ou tjomma, kom ons gaan braai”

Daar is nie brieke nie!

Ons twee het maande lank in die boomhuis gesit en spekuleer en prênkies teken oor die besigheid, die perfekte kaskar vir die waagtoertjie van alle waagtoertjies. Toe, eendag, val die perfekte kaskar in ons skoot. Lukas het een persent gekry. Dit was ‘n regte egte winkelkaskar met staal buisraam en opblaas kruiwa wiele soos hulle op die melkkarretjies gebruik het, en ‘n stuurwiel. Met ‘n regte sitplek. Die hele ding was geel geverf, wat nogal jammer was want dit is ‘n bewese feit dat rooi kaskarre die vinnigste is.

Die maand of wat wat wat oor was voor die skoolvakansie sou aanbreek was seker een van die langste maande in ons lewens, maar eindelik het dit ook verby gegaan en ons was reg vir die ding. Daai aand het ons in die boomhuis geslaap en die son was skaars uit dievolgende more, toe is ons al in die pad. Van die plotte op Andeon to by die water resevoir in Suiderberg is nogal ‘n entjie en boonop opdraend, maar ons het dit skaars gevoel.

Die son was ook nie te vêr bokant die horison nie, toe staan ons gereed by die eerste haarnaald draai van die sementpad wat bergop loop na die resevoir toe. Voor ons lê so ongeveer 100 meter se steil afdraend, dan ‘n 90 grade linksdraai oor die bruggie wat die sement afvoersloot span, dan weer ‘n linksdraai in die teerpad in. Vandaar so ons stadig spoed verloor tot ons kon regsdraai in Bremerstraat vir die steil afdraend tot knap duskant die snelwag waar ons beplan het om te stop omdat dit ook is waar ons die eerste maal weer verkeer sou teëkom (Suiderberg had op daardie stadium slegs strate, maar geen huise nie)

Lukas het bestuur, ek was agter. Nadat ons vir oulaas die planne bestudeer het het ek die kaskar bultaf gestoot en agter hom ingespring. Die boompies en klippe langs die sementpad het baie vinniger verbygeflits as wat ons ooit gedink het dit sou. Ons het nooit aan remme gedink nie, en nou was dit te laat. Loekie het sy bes probeer onder op die draai, maar die kaskar het van die pad geloop en uiteindlik onderstebo bo-op ons in die sement afvoersloot tot stilstand gekom.

Dit het ‘n rukkie geneem voordat ons onselwers onder die kaskar en uit die sloot kon loswikkel en seker was ons is nie dood nie. Nerfaf knieë, elmboë en verskeie skrape en kneusplekke was die diagnose, maar niks gebreek nie. Toe kom die lag, aanvanklik bietjie histeries maar later sommer die adrenalien lag van twee outjies wat weet hulle was baie gelukkig. Net ons beserings het verhoed dat ons nie elkeen ‘n loesing op die lyf geloop het by die huis nie.

Somtyds moet mens maar net die afdraende pak sonder remme en hoop vir die beste.

Rooi waentjie vir Nico

For the one that got away

Hey Nico,
Jou ma het nou die dag vir my gevra of ek met jou sal gesels terwyl sy swanger is met jou, en ek het geantwoord: natuurlik! Daar is so klein probleempie met die swanger word en synde dat ek nie meer kan wag nie, gesels ek maar solank. Nooit te vroeg vir ‘n behoorlike pa‐en‐seun geselsie nie of hoe? Net ons manne.

So hoe hou jy van die naam Nico? Ek en jou ma het besluit dat agt geslagte se vrek dra aan die familiename dalk nou genoeg, maar ek moet erken alhoewel ek saamstem met die weglaat van die rits doopname ek jou steeds jou oupa se noemnaam wou gee. Dalk is ek selfsugtig deurdat en deur die naam dit wat ek so kwistig opgemors het wil probeer regmaak. Jou ma is nogal dikwels reg oor sulke dinge, maar dit sal jy nog agterkom. Sy het ook supersoniese gehoor en oë agter haar kop.

Maar dis nie eintlik wat ek vandag vir jou wil vertel nie. Jou se outoppie verkondig mos aljimmer dat al wat dit vat vir ‘n seuntjie om gelukkig te wees is 3 dinge:
‘n Waentjie (verkieslik rooi)
‘n Maatjie
‘n Plan
Nou die plan is heeltemal afhanklik van jou eie verbeelding, maar ek sal vir jou cover as dinge skeefloop en mamma wil slae uitdeel. Die maatjie kan jy kies uit enige een van die vierbeen gediertes hier op die werf, hulle vrek almal oor klein seuntjies.
En die waentjie…wel die het pappa al vergange al vir jou gekoop. So Ferrari rooie nes die een wat ek gehad het. Hy lê bo‐op die kas in die spaarkamer saam met die afstandbeheerde 4×4, om oopgemaak te word sodra jy begin loop. Jy kan hom saamvat as ek en jy gaan kyk na daai nuwe lego blokkies, of die mechano stelletjie, of die skylectric. Maar moet niks vir mamma sê nie, mammas verstaan nie van seuntjies (groot en klein) en speelgoed nie. Mind you mamma self het kratte en kratte vol sagte speelgoed bymekaargemaak vir jou en jou sussie of boetie om julleself mee te vermaak tot julle groot genoeg is.

Terwyl dit nou net ons manne is: Ons kan mos maar oor enigiets gesels, of hoe? Ek dink nie ons gaan ooit die vooreg hê om jou persoonlik te ontmoet nie. Met die laaste toetse het dinge nie goed gelyk nie. Pappa gaan oor twee weke vir ‘n operasie wat die ding gaan verwyder wat veroorsaak het dat jy nog nie realiteit kon word nie. Wat daarna gebeur is genade alleen. Ek sal egter aanhou skryf wat ookal gebeur, en as dit dan nou nie vir ons beskore is nie, hoop en vertrou ons dat die universe jou sal toewys aan iemand wat jou sal liefhê en oppas soos wat ons sou. Jy verstaan mos né?

Ewenwel, ek moet gaan. Ek dink my bril het toegewasem, want die rekenaarskerm lyk skielik baie wasig. Dankie vir die chat, ons maak weer so.

Dad

Milky (Die onklaar storie)

Mense gaan na die groot dam toe om vir die golwe te staar sodat die natuurlike ritmes moeë liggame en vodde siele weer gesond kan sus, maar na byna twee weke van niks anders om na te kyk nie is die “internasionale” bemanning van die vissersboot Mary Louise dankbaar om in die skuimkoppe voor hulle op die toonbank te staar.

Oudergewoonte sit Skipper in die hoek, gevolg deur Whitey, Jackson, Patrick en Milky naaste aan die deur. Laasgenoemde is ook die jongste bemanningslid en hy het sy bynaam gekry toe hy sy eerste dag op die boot gewerk het, skaars ‘n week na sy sestiende verjaarsdag. Toe skipper hom aan die bemanning voorgestel het, het gladdebek Whitey opgemerk: “Skipper maar kyk hoe bleek is die klong, amper nes ‘n milkybar. Nou is ons ‘n properse international crew, vier toffies en ‘n milkybar” Milkybar het outomaties verkort na Milky toe en die naam het geklou.

Skipper was die eerste om op te staan. “Onthou nou manne, Maandagoggend vieruur vaar ek, ek wag nie vir ‘n man nie gehoor!” Teen middernag was die kroeg byna leeg soos die manne een-een koers gekry het na hulle onderskeie lêplekke toe. Milky, die enigste vrygesel, was nie haastig om by die huis te kom nie maar synde dat die geselskap by die watergat omtrent drooggeloop het, het hy ook maar aanstaltes gemaak.

Buite het die briesie wat van die see af inwaai lelik tande gewys en Milky was bly vir die dik vissermansklere waarmee hy vanmiddag nog van die boot afgeklim het, hy het die kraag van sy baadjie opgeslaan net toe hy op die hoek van die gebou stap en nie die bondel mens op die grond gesien voor hy letterlik daaroor geval het nie.

Die bondel het geroer en goed ‘n volle minuut lank in ‘n swaar Skotse aksent geswets oor hy kwansuis nou nie sou kyk waar hy loop nie. Was dit nie vir die ontelbare middae se ekstra Engelse lesse wat sy ma hom forseer het om by Lady McDermot te neem nie sou hy geen kop of stert van die man se tirade kon uitmaak nie. Uit ondervinding wis hy dat dit nie help om met ‘n besope mens te redeneer nie en na afloop van die tirade bied hy slegs ‘n verskoning aan en maak om verder te stap. “Koop my ‘n whisky dan vergeet ons daarvan” bied die man aan.

Milky wou eers teëstribbel maar besluit daarteen. Hy was in die eerste plek nie regtig lus om al huis toe te gaan nie. “Nou goed dan” Vir iemand wat kort gelede uitgepass op die sypaadjie gelê het kom die figuur heel rats op sy voete.

In die lig binne die kroeg sien Milky dat die man oor wie hy so flussies gestruikel het glad nie meer vandag se kind is nie. Hoe oud presies is egter heelwat moeiliker want die oubaas se gesig is deur wind en weer en swaarkry omskep in ‘n padkaart van lyne ge-ets op ou leer. “Alweer jy?” Vra die kroegman toe hy die ou man sien. “Toemaar Piet, hy is saam met my” antwoord Milky. “Moenie enige stories glo wat hy jou vertel nie” waarsku die kroegman, “en as hy moeilikheid maak gooi ek julle altwee uit.” dreig hy toe hulle op die hoë stoeltjies plaasneem.

Die stories het gevloei met die drankies, elke avontuur meer aangrypend as die vorige. Die ou man is ‘n gebore storieverteller en die manne in die kroeg het aan sy lippe gehang. Van sy vertelling oor hoe hy en sy familie in die middel negentien vyftigs blindelings in die nag moes vlug voor die Mau Mau in Kenya waar sy pa ‘n koffieplantasie besit het, tot hoe hulle ‘n nuwe lewe gebou het in die destydse Rhodesia.

Hy het hulle vertel van sy diensplig in die bosoorlog voor die onafhanklikwording en naamsverandering na Zimbabwe toe, en die die moord van sy ouers op hulle plaas terwyl hy weg was op een van sy ontplooings. Na onafhanklikwording het hy nie soos baie van sy wit landgenote gevlug terug Engeland toe of Suid Afrika toe nie maar in Zimbabwe agtergebly. Teen hierdie tyd was hy ‘n gekwalifiseerde geoloog en het hy op een van die kopermyne in Noord Rhodesia – nou Zambië, gewerk tot ‘n geskil met die mynkaptein hom sy werk gekos het.

Toe hy uiteindelik wel Suid Afrika toe kom het hy werk gekry op een van die goudmyne tot hy daar ook sy werk kwyt is as gevolg vir sy voorliefde vir whisky. Daarna het hy op sy eie prospekteer en fabelagtige rykdomme gewen en verloor, moontlik omdat die dryf om te sien wat oor dievolgende heuwel lê sterker is as die trekkrag van geld en besittings.

Die geboorte van ‘n nuwe dag is al ‘n bloedstreep op die Oostelike horison toe die ou man en die jonger visserman onseremonieëel en effe onvas op hulle voete by die laaste drinkgat op die dorp by die deur uitgeboender word. Op navraag van Milky dui die oubaas aan dat hy oppad is om vir diamante te gaan prospekteer iewers in die Kalahari. “Kom saam met my en leer hoe dit voel om vry te wees” pleit die oubaas by Milky. Milky antwoord in die negatief terwyl sy hart skreeu “Vat my saam!”. “As jy van plan verander, ek sal met die volgende maan daar oorkant teen die duin kamp, onder die groot melkhout. Kom soek my op.” Daarmee draai die ou man om sonder om te groet en slinger straat-af.

Slaap ontwyk vir Milky en hy sit by die kombuistafel in sy huisie en blaai deur die pos. Een brief trek sy aandag, die adres agterop is dié van ‘n regsfirma in Kaapstad. Ses maande in Paulsmoor vir minagting van die hof het vir Milky geleer dat hoewel skuldeisers ignoreer kan word is dit beter om nie dieselfde met die gereg te doen nie. Wat hy in die brief lees laat hom na sy telefoon reik.

“Hoekom bel jy so vroeg? Is alles OK?” vra sy ma voor sy nog behoorlik gegroet het. “Ma het gesê my pa is dood voor ek gebore is. Hier het ‘n brief aangekom van prokureurs in die Kaap wat sê hy is laasmaand oorlede en dat ek aangewys is as erfgenaam van sy boedel.”

Sy ma bly lank stil. Dan sê sy afgemete. “Dit moes seker een of ander tyd gebeur, laat ek jou ‘n storie vertel.”

 

 

S.A.W. en Seuns Korporasie

Inleiding

Ek het bitter lank gedreig om die storietjie te skryf, maar daar was altyd iets meer huidig, meer belangrik, meer NOU om oor te griffel. Soveel so dat die onthou op plekke al dynserig begin raak het.

Daar is al soveel volwaardige boeke geskryf oor die onderwerp, en glo maar vry dat ek my bes doen om elkeen gelees te kry, dat my bydrae nou nie juis nuut of nodig is nie. Tog wil ek kortliks my weergawe neerpen van my ervarings van daardie geheimsinnige tyd in ‘n jongman se lewe waar hy van agter ma se rokspante losgewikkel en ingesluk is die die korporatiewe masjien van die S.A.W en seuns, om anderkant as verantwoordelike jong volwassene uit te stap. Of dalk was ek bloot meer gelukkig as sommiges, die nagmerries het met die liefde en verdraagsaamheid ‘n ‘n goeie vrou namate verdwyn.

Hoekom dit nou weer ophaal, sou jy vra? Dit is soos om vir ‘n bergklimmer te vra hoekom hy berge klim. Want dit is daar! Ek was daar, dit het gebeur, en daarom wil ek dit onthou. Die lekkerste tyd van my lewe wat ek nooit weer wil oorhê nie.

Ek wou nog altyd soldaat wees, weermag toe gaan is iets waarna ek uitgesien het. Maar dit het seker ook baie te doen met die feit dat Oupa en die se broer sowel as my pa en een van sy neefs almal beroepssoldate was. As gevolg van pa se beroep moes ons vir kort duskant 2 jaar in die civviedorp op Oshakati bly toe ek nog ‘n laerskoolseuntjie was. Ek het in standerd 3 eers weer in SA begin skoolgaan. Die deel onthou ek goed, want Wynie Strydom – die voormalige Blou Bulle spanbestuurder is – was daai jaar my wetenskaponnie.

Dit is daar op Oshakati waar ek vir die eerste keer my voorneme bekend gemaak het om ‘n Koevoet te word. Pa het altyd so deur sy neus gesnork en gesê ek moet nie mal wees nie, daai ouens is bosbefok. Ek het eers baie jare later agtergekom wat beteken bosbefok, en dat jy nie sommer kan kies om ‘n lid van koevoet te wees nie. Toe ek uiteindlik by SAW & S opdaag was koevoet inderdaad al vir 2 jaar ontbind. Steeds, elke Woensdag tydens skoolvakansies as die spanne ingekom het basis toe het ‘n klein seuntjie gedrool oor hoe cool daai manne met hulle olyfgroen uniforms agter die gewere op hulle caspirs gelyk het. Later, na ons teruggekom het states toe, het Storieklong sy ouers elke jaar mal gekerm om Pretoria skou toe te gaan en het hy dan ure by die weermaguitstallings deurgebring.

Toe het die blinkoog seuntjie ook nog nie geweet van klasse nie. Geweet dat die spories bly in East Lynne en Silverton, die jong paartjies in woonstelle in Arcadia en Sunnyside, die Yskoriane in Pretoria Wes en Kwaggasrand en Danville en die middelklas staatsampies in Pretoria Moot nie. Of dat Waterkloof die rykmense van skuldbult was nie. Of dat die wat nie by een van genoemde instansies kon werk nie, polisiemanne en weermagrotte geword het nie. Volgend die blinkoogseuntjie was ‘n uniformdraer ‘n edel en diensbare beroep, en die ooms wat ons kom vertel het van die rooi gevaar en die swart gevaar het ook so gesê.

Boetie gaan army toe

Dan, pas na jy 16 geword het, word dit aan jou toegeken (ge– issue om properse armytaal te gebruik). Die laaste nommer wat jy ooit sal hê – jou magsnommer. Ek vergeet gereeld my eie foonnommers, rekeningnommers ens. Maar daai nommer is vir ewig in my geheue ingeprent. 89…… waar 89 die jaar verteenwoordig waarin jy kwalifiseer vir diensplig. In die daaropvolgende jaar begin bruin koeverte in die posbusse van alle 17 jariges verskyn.

Hiermee word u verwittig . . . Tot en met 1993/94 was nasionale diensplig vir alle wit Suid Afrikaners verpligtend. Die eerste briefie was net ‘n vriendelike waarskuwing dat jy nou in die stelsel is en dat dit jou plig is . . . blah blah blah. Vir weke is dit die hoof besprekingspunt van elke rokersgroepie, vryhoekie, dinkskrum en losskrum op die skoolterrein. “Het jou papiere al gekom?” “Waar gaan jy heen?” “Gaan Jy uitstel vra?”

Die bosoorlog in Suidwes was verby met die laaste S.A.W. troepe wat in 1989 onttrek het, so my inname sou nie Angola sien nie. Vir daardie rede is diensplig verkort vanaf 2 jaar tot slegs 1 jaar. Die 12 jaar se burgermag kampe daarna het egter onveranderd gebly. Ons sou aangewend word om ons eie grense te beskerm sowel as om die polisie by te staan in die uitvoering van hulle pligte. Nadat die uwe soveel jaar uitgesien het na die weermag ervaring was die einde van die bosoorlog half ‘n anti klimaks. Min het ek geweet dat die nuwe oorlog waarin ons onself sou bevind net soveel intens sou wees. Ons politieke meesters was besig met die CODESA samesprekings wat uiteindelik tot die ’94 verkiesings sou lei, maar die townships het gebrand.

Laat in jou Matriek jaar, kort duskant die rekord eksamens, kom die finale uitnodiging van S.A.W. en seuns. U word beveel . . . Dit tyd en plek van jou aanmelding sowel as ‘n lys van benodigdhede word uitgestippel, sowel as ‘n dreigement oor wat jou lot sou wees as jy versuim om op te daag. Jy kon uitstel vra, maar geloofs of politieke oorwegings was geen gronde vir uitstel nie.

Nou moes die matriek eksamens net agter die rug gekry word, dan weg op die avontuur van ‘n leeftyd!

Once you check in, you can’t check out

Na ‘n Desembervakansie wat soos ‘n maandlange ramparty verloop het soos wat ons manne die laaste dae van ons vryheid geniet het, natuurlik tot groot ontsteltenis van ons ouers, breek die groot dag toe aan. Ons versamelpunt was kort duskant nommer 1 Potgieterstraat in Pretoria, op die grasperk van een van die historiese gebou daar. Eenkant het die toerbusse reeds reggestaan om ons na ons nuwe blyplek te vervoer. Soos wat die manne aangekom het kon jy baie duidelik die klasverskille waarneem. Bo‐dorp se kinders arriveer met alles insluitend die kombuiswasbak in en op duur rugsakke gepak, padkos en koekieblik onder beide arms. Die kommin lot van onderkant die treispoor het elkeen ‘n sportsak met die skool of borg se naam op wat laasjaar nog diens gedoen het as toksak. Hier en daar het iemand ‘n checkerssak met ‘n bietjie padkos in. Ten spyte van die minimale uitrusting, lyk hierdie groepie die meer gemaklike ene.

Op die voorgeskrewe tyd bestyg een of ander karakter met baie voëltjiemis op sy skouers en cokedoppies op die bors die podium. Hy lewer ‘n spiets wat die helfte van die mamma’s skoon bewoëe het. Dis ‘n spiets oor antwoord die roepstem van jou land, en hoe hulle gesonde sterk jong manne van ons gaan maak en die rooi gevaar en die swart gevaar en blah blah blah. Ek dink hy het dit al voorheen gedoen. Dan verdaag hy die ouers, met die belofte om hulle seuns mooi op te pas. Daar word gegroet, en toe die laaste sivvie kar by die hekke uitry bars die hel los.

So rooigesig kêrel met ‘n rasperstem soos die duiwel van die kinderbybel begin al skreeuende bevele uitdeel en dirigeer die rye verdwaasde rowers na die wagtende busse toe. Ek meen, rower? My oproep instruksies sê tog duidelik rekruut. Weet die man nie wie ek is nie? Ek is die regiment Sersant Majoor van my skool se kadetkorps. Ek is die leier van die drilpeleton. Ek het elke kursus en elke kamp gedoen wat ‘n kadet kon doen. Vir die eerste keer wonder ek toe so by myselwers of hierdie army ding dalk tog nie so maklik gaan wees as wat ek gedink het nie.

In rekordtyd is ons binne in die busse geboender, en twee ure later arriveer ons by ons nuwe huis weg‐ van‐die‐huis. 4SAI te Middelburg Transvaal. Oftewel 4 Suid Afrikaanse Infanterie Batteljon.

Op die maat van Darling Clementine . . .
“Come to 4 SAI, come to 4 SAI,
It’s a place where you can die
If it wasn’t for the corporals
This would be a paradise”

Weereens in rekordtyd is ons deur rooigesig en sy trawante uit die busse geboender en sitgemaak op die rugbyveld. Hierdie was sommer ook ons eerste kennismaking met iets wat deur die weermag vervolmaak is, hurry up and wait. Toe die laaste manne afgelaai in in reguit bondels ingeboender is het die RSM van die eenheid ‘n kort toesprakie gemaak. Twee dinge wat hy gesê het bly my vandag nog by. Die eerste ding was dat hy glad nie ‘n troep vertrou wat nie kanse vat nie. Kanse vat is waarvan ‘n troep aanmekaar gesit is, maar as jy uitgevang word moes jy die gevolge dra . . . en boetie het ons gedra! Die tweede ding was dat weermag die lekkerste tyd van jou lewe is wat jy nooit weer wil oorhê nie. In retrospek was dit presies hoe ek dit ervaar het.

Daarna die babelse verwarring om almal by hulle regte plekke te kry, en die malle rondgehardloop van uit uithoek na die ander. Ek het jammer gevoel vir die rykmanskinders met hulle hope bagasie, sjaaim. Toe die son sak is almal ingedeel en in hulle kasernes, sonder kombers of kussing van ‘n dagoud, maar gelukkig was dit Januarie en nie Julie nie. Ek het heel gemaklik onder my handoek geslaap. Die volgende oggend sou ons 5 uur opstaan vir onbyt om 6 uur, dan begin die proses om in te klaar en ge”kit” te word. ‘n Paar manne het nog nooit in hulle lewens so vroeg opgestaan nie en het maar bra bleek om die kiewe gelyk by die gedagte dat hulle vir die volgende jaar nie meer agter mamma se rokspante kon wegkruip nie. Al wat ek wou weet is wanneer kry ons skietgoed . . .

89……
Rekruut Storie Klong
Charlie Kompanie, Peleton 3
4 S.A. Infanterie Bateljon
Privaatsak X1802
Middelburg Transvaal
1050

Ek moes loop kyk, my geheue is nie so goed nie. Gelukkig het ek nog elke brief wat die van Helsdingen geskryf het tydens my kampuitstappie by S.A.W en seuns. Dit tel onder my mees gesogde besittings.

Dit het gevoel of ons skaars ons oë toegemaak het toe die BOOM! BOOM! BOOM! van donderbuise ons uit die slaap ruk, gevolg deur die gebulder van stemme wat skreeu: Aantree! Ek soek julle binne 2 minute buite! Dit het nie gevoel soos opstaantyd nie, dit was ook nie. Dit was 3 uur in die more. Die eerste fase van opleiding het aangebreek, breek die individu af en bou almal op tot een organisme, een span. Hiervan lig die korporaals ons in terwyl ons almal in ons civvies in die voorsteun posisie af op daardie skerp hoogoondas (slag) paadjie staan. Die rede vir die hol‐omhoog posisie? Een ou het nie op sy naam geantwoord toe dit uitgeroep is nie, hy het deur alles geslaap. Omdat ons nie ons maatjie gehelp het nie, moes ons gestraf word. Nie dat die rede werklik saakgemaak het nie, ons sou in elk geval pushups gedoen het. Dit was alles net deel van die proses.

Inklaar

Na onbyt, wat in rekord tyd afgewurg moes word (ek het nooit weer afgeleer om vinnig te eet nie), word ons store toe gemarsjeer om “kit te gaan trek” Daar was 2 roetes store toe, een verby die menasie en offisiere se huise van ongeveer 400m, die ander padlangs en so na as bliksem aan vloek 3 kilometer lank. In tipies SAW styl is dit toe natuurlik die roete wat ons mee store toe marsjeer word, oftewel dan liewers in ‘n reguit bondel store toe geskreeu word.

Met die terugkomslag is ons belaai met alles wat ‘n troepie nodig het om SAW en seuns se avontuurkamp mee te maak.
1x Staal trommel
2x komberse (van daai soort wat jy deesdae by PEPstores koop vir die honde om op te slaap)
1x pisvel (paslaken vir jou sponsmatras)
2x Militêr bruin lakens
Kussing en sloop
1x Baalsak (duffelbag)
1x Battle jacket (bakleibaadjie)
1x Grootsak (H raam Rugsak van baie goeie gehalte)
2x Stelle stewels
1x Stel PT tekkies
3x Stelle kouse
3x Army onderbroeke (ek voel nou nog hoe skaaf daai goed. Meeste van ons het afgesnyde sykouse gedra teen die
skaaf)
2x Oorpakke (In basiese opleiding dra jy omtrent net oorpakke)
2x Stelle Browns (kon 3 ook gewees het, ek kan nie meer onthou nie)
2x Bosbaadjies
1x trui en serp
1x Aapjas
Staaldak (Kevlar Helm), Boshoed en Beret met bokkop en balkie
2x PT broekies en T hemde
2 Handoeke
Webbelt
2 Dixies
Pikstel (Vurk mes en lepel wat inmekaar pas)
Firebucket (Blik beker met wegvou handvatsel )
1 x 2l en 2 x 1L Waterbottels
Putties (Wit kamaste)

By die dankiesê tannies het ons ook sakbybels, skeergoed en so paar ander los goedjies gekry. Gewere die sou ons eers later kry wanneer ons eers bietjie meer ingebreek was. Na 3km se gewaggel met hierdie hoop goed het dit gevoel of jou arms en rug omtrent afgebreek het.

Dievolgende week of twee is gekenmerk deur klere omruilings (die weermag hou net 2 groottes aan – te groot en te klein) Die uitreik van allerhande los stukkies uitrusting en die allerbelangrike mediese ondersoek sodat jy geklassifiseer kon word. Die klassifikasie was min of meer soos volg:
G1K1: Perfek gesond. Kanonvoer. Licensed to get F.U’d
G2K1: Gesond maar dra bril of gehoorapperaat.
G2K2: Soos bo, maar moontlik met verdere toestande
G3K3: Gewoonlik was asma lyers G3’s
G4K4: Ounens met meer ernstige mediese kondisies . Suurstof diewe of LSD squad (Lam, siek en dooies) Klerke en stoormanne geword.
GT: Tydelike vrystelling op mediese gronde
G5/GP: Medies ontslaan – vrygestel van diensplig

Al hierdie ondersoeke en inspuitings en vorms invul het natuurlik veroorsaak dat daar baie rondgestaan en –gesit is, maar dit is ‘n situasie wat gou sou verander. Die aanvang van basiese opleiding was om die draai.

Die rondsittery het egter gehelp dat die manne mekaar stadig leer ken het. Snaakse ding van die weermag dat jy is op jou van of byname genoem was. Bitter min ouens het mekaar op hulle noemname genoem. Ek was aanvanklik rocky (verkorting van rockbiter) maar die ouens het dit later na rugbyheld toe verander toe ek Suidoos Transvaal span gekry het. Saam met my was Mens (Soos in oermens) , Vlieg (omdat hy so klein was), Grasmuis (afgelei van Erasmus) , Bobby (soos in bobbejaan) en nog ‘n horde ander waarvan die name en gesigte lankal vervaag het. My peletonbev was Luitenant Jungle Justice Murray, en hy het my gehaat.

Basies

Basiese opleiding, sodra jy die roetine gesnap het, was eintlik heel eenvoudig. Dit was letterlik en figuurlik soos die Ingilsman sou sê textbook stuff. Basies is leer deur repetisie. Oor en oor en oor. Fisies uitdagend en met baie skreeu en dreigemente deur die leierskorps, maar niks meer as dit nie. Dit is tog jammer dat so baie ouens dit nooit gesnap het nie en misrabel was regdeur die hele ervaring.

Offisieël was opstaantyd om 05:00, maar gedurende basies was ons meestal al 03:00 uur op om voor te berei vir die eindelose inspeksies. Natuurlik is dit teen regulasies om ligte aan te hê in die kasernes voor opstaantyd, so as ons gevang was – wat klokslag eenmaal per week gebeur het – moes jy maar straf vat. Gewoonlik was dit in die vorm van ‘n bungulow oppie. Niks was gewaarborg om al jou harde werk ter voorbereiding vir inspeksie so vinnig tot niet te maak soos 64 troepe wat moet hindernis navigeer deur ‘n kaserne nie. Bo‐oor een bed, onderdeur volgende een. Herhaal.

Ontbyt om 06:00. Natuurlik het die proses om by die menasie uit te kom gepaard gegaan met genoeg oefening om jou ‘n behoorlike aptyt te gee. Die een ding bo alles anders wat basies gekenmerk het is dit dat jy nooit stilgestaan het nie. As jy nie besig was om te marsjeer of iewers heen te hardloop nie, was jy besig om opstote op opsitte te doen. Alles deel van die proses. Wanneer jy uiteindelik by die menasie opeindig was dit: Skep.Sit. Eet. Jy’s klaar. 10 minute nadat jy jou kos gekry het moes jy uit, klaar of nie. Army kos was nie jou gunsteling braairestaurant kwaliteit nie, maar dit was gesond en genoeg as jy nie vol fiemies was nie. You eat to live.

Maandag tot Vrydag was kaserne inspeksie om 07:00. Jy had nooit ‘n perfekte inspeksie nie, dit was ook deel van die proses. Daar was altyd ‘n sigaretstompie in die sand van die firebucket, of een sot het vergeet om sy venster 90 grade oop te maak. Of die koperdele van die pypwerk onder die wasbakke was nie ge‐brasso nie. Of daar was water op die stortvloer. Of die vloer was nie blink genoeg nie. Of jou bed was nie perfek verkantig gestryk nie. “Troep! Wat die fok gaan met jou bed aan, die ding lyk soos ‘n roeiboot. Is jy in die vloot troep? Klim op jou bed en roei! Troep Storieklong naai sy maaitjies. Ek kry julle later” As gevolg van jou foutjie en die gevolglike fisiese aktiwiteit wat volg moes jy maar weet dat jou maatjies jou vannaand kom besoek met kussigslope en kouse volgestop met alles van koekies seep tot stewels. Jy leer baie vinnig, dis alles deel van die proses.

08:00 Word jy na jou toegewysde paradegrond gemarsjeer waar jy die fynere kunsies van marsjeer leer deur ‘n proses van herhaling. 120 passe per minuut. “Julle fok my rond troepies, sien julle daardie boom? Daar gaan julle, linksom. Ek tel tot tien…een! Watter kant sit julle linksom troepies? Daar gaan julle weer!” Dan genadiglik die opdrag “Rook en drink water!” 10minute breek voor alles weer begin. “Peleton! Herstel! Julle moet opbeur troepies. Peleton! Peleton, aaaaaaaaaaaandag! Julle klink soos ‘n klomp beeskak wat in die pad val, ek soek daai voete gelyk!” Rig op die regterflank, voorwaarts MARS!”

12:30 Breek jy vir middagete. Die proses is maar ‘n herhaling van ontbyt. Teen 13:30 sit jy in die lesingtente op die onderpunt van die basis om geleer te word in alles van rangstrukture tot die geskiedenis van jou eenheid tot militêre eerbetoon en radioprosedure, noodhulp, TEINOPS (Teen Insurgensie Operasies) en natuurlik die alomteenwoordige rooi en swart gevaar. Natuurlik begin die moegheid nou ernstig inskop en kort voor lank begin die koppe knik. Net om hardhandig weer wakkergeruk te word. “Staan op! Ek sien julle slaap troepies, sien julle daai boom…” Somtyds word ‘n enkeling uitgesonder. Die arme lid word uit sy sluimer geruk deur die spoeg‐spattende‐skreeuende korporaal 6 duim van sy gesig af. “Slaap jy rower!?” Die ouens uit gegoede huise wat nie hierdie tipe van aggressie en taal gewoond is nie het dan somtyds verward gepluk en in ‘n onbesonne oomblik geantwoord. “Nee meneer” (Onthou meeste van ons was vars uit die skoolbanke) “Meneer!? Wie’s jou fokken meneer troep? Weet jy wat is ‘n meneer? ‘n Meneer is ‘n klein mannetjie wat tussen jou holhare bly en wat uitkom as die maan vol is en vir jou ballas blaf. Hierdie troepie naai sy maatjies. Sit jy rustig troepie, die res van julle…om die boom!”

16:00 is die lesings klaar, en dan word jy terug marsjeer kasernes toe. Daar aangekom het jy 2 minute om jou PT klere aan te trek en weer aangetree te staan voor die kaserne. Daarna spandeer ‘n PT instrukteur ‘n uur of wat se kwaliteit tyd saam met jou en maak jou lyf wonderwerke van uithouvermoë en krag demonstreer wat jy nie gedroom het jy kan nie. Daarna terug kaserne toe vir nog ‘n vinnige uit‐en‐aantrek voor die hele menasie klug homself weer afspeel vir aandete.

Na aandete was dit veronderstel om eietyd te wees sodat jy kon klere was en stryk, stewels blinkvryf ensovoorts. Jungle justice het ons egter elke aand om 7 uur laat inspeksie staan, en dan genoeg skade aangerig om seker te maak ons hou onselwers sinvol besig. Elke kompanie het ook op rotasiebasis geleentheid gekry om korveediens en wagstaan diens te virrig. 21:45 sit jy op jou trommel en lees jou bybel (of maak asof jy lees) 22:00 is ligte uit. Heelwat ouens het verkies om onder hulle beddens op die grond te slaap om nie die perfek opgemaakte en gestrykte bed te ruineer nie. Natuurlik as jy gevang was . . .

Kompetisie en spanwerk in die weermagopset is ten sterkste aangemoedig, en Woensdae na middagete was sportperade waar jy aan ‘n sport van jou keuse moes deelneem. Die uwe was lekker groot en sterk en fiks en het sommer gou‐gou my peletonbev uit die saal gelig in die eenheid se eerste span, daarna ook Suidoos Transvaal weermag en Suidoos Transvaal provinsiaal. Rugby was die perfekte gyppo truuk om uit die seweuur saans inspeksies te kom, sowel as om na die tyd in die offisiersmenasie te kon eet (rugbyoefening was tydens aandete) As jy rugby gespeel het in die weermag was jy koning. Ongelukkig het Jungle Justice my so bietjie gehaat omdat ek sy plek in die span geneem het, en hy het elke geleentheid gebruik om my ‘n harde tyd te gee. Ongelukkig vir hom het al die PT my net nog fikser en sterker gemaak. Poephol.

Saterdag oggende het begin met fiksheids evaluasie. 30 Opstote in een minuut, 60 opsitte in 2 minute, agt optrekke (chinups) en 2.4km in minder as 12minute in skeleton kit was die teiken. Skeleton kit het bestaan uit oorpak, stewels, battlejacket en staaldak (later het wapen ook bygekom). In jou bakleibaadjie moes ten minste 2 liter water en jou poncho wees (later ook magasyne). My beste tyd vir die 2.4km was 06:33. Ek was friggen superman. Na fiksheid moes jy bietjie onderhoudswerkies doen, chicken parade of bossies spit of so iets vir die res van die dag. Teen laatmiddag was dit gewoonlik posperade, waartydens die korporale jy pos uitgedeel het. Alles kom natuurlik teen ‘n prys, en jy moes jou briewe verdien met opstote, hoe meer briewe of hoe erger dit na parfuum ruik, hoe meer opstote het jy gedoen. My liefie het bykans elke dag geskryf, die briewe omtrent in parfuum gedoop en boonop die koeverte met cartoons en slagspreke versier. Ek het baie hard gewerk vir nuus van die huis af. Sondae moes jy kerk bywoon en daarna het jy poeding saam met jou middagete gekry. Sondagmiddae was jy af, maar daar moes Maandag ‘n briefie aan jou geliefdes op jou bed wees. Maandagoggende het jy ook eers eenheidsparade gehad op die hoof paradegrond voor jy kon aangaan met jou gewone roetine.

Deur dit alles het die spesialis eenhede kom besoek aflê op soek na mense. Dokters en medici is weggeraap 1Mil toe, ingeneurs geniekorps toe en dieselwerktuigkundiges werksplaas toe. Infanterieskool op Oudshoorn het kom JL’s soek, die vleisbomme het die malletjies wat uit werkende vliegtuie wou spring kom haal. Deur dit alles het die uwe gewag. En uiteindelikhet hulle ook gekom, VK … Verkenningskommando oftewel die reccies. Storieklong het deur die aanvanklike keuring geseil en is afgevoer na the Bluff in Durban vir die 3 weke fiksheid en psigiologiese evaluasie. Ek was vreeslik opgewonde toe ek dit ook maak, liefie was nie. Ek had die skoot toe alreeds hoog deur, en het gekies om te RTU (return to unit) Die ander ouens is van Durban af Bloem toe vir hulle parrabat opleiding. Vrouens!

Wapenfase

Na so ongeveer 3 weke is die rou rekrute al tot so mate getem en gedisiplineer dat die volgende deel van die opleiding ‘n aanvang kan neem. Wapenfase. Vroeg een Maandagmore word ons met grootskaalse gejubel wapenstoor toe marsjeer. Daar aangekom word jou “vrou” vir die res van jou weermag ervaring aan jou uitgereik. Sommige gelukkige wetters – wat die uwe ingesluit het – is met twee vroue opgesaal. Jou gewone R4 en die baie groter en swaarder LMG. Dankie luitenant. Gelukkig het die LMG ten minste vir nog ‘n rukkie eers in die stoor gebly.

Saam met jou nuwe vrou het daar natuurlik ‘n reeks nuwe “drills” gekom wat moes ingeoefen word asook ‘n hele reeks nuwe en wonderlike maniere vir die range om fout te vind met jou inspeksie. Troep, wat se tarragompies bly hier in jou geweerloop. Marsjeer hulle onmiddelik daar uit! Tot groot vermaak van die res van die kaserne natuurlik. Tarragompies was een ding, maar enige teken van roes op jou wapen was gronde vir ‘n onmiddelike DD1 – beskadiging van staatseindom. En daai R4’s het geroes as jy net oor hulle asemgehaal het. Dit was in die jare to plastieksakke nog gratis was en jy betaal het vir kondome. Maar kondoom oor die loop was die beste manier om die water uit te hou.

Dan was daar Doringkop. Die skietbaan so 12km buite die dorp. Ten minste eenkeer per week is jy skietbaan toe om jou skietkuns op te knap. As jy nie die minimum hoeveelheid punte behaal het nie het jy een van twee strawwe gekry. As jy gelukkig was moes jy net jou magsnommer teen die skietwal se nommers uithardloop. As die sammajoor ‘n hangover gehad het moes jy terughardloop dorp toe. Dit het nie veel gehelp as jou pelle ‘n streep op jou getrek het en jou valplate se staanders onder die raamwerk ingehaak het sodat hulle nie sal omval as jy dit raakskiet nie. My oë traan nou nog as ek dink hoe klein daai valplate word as jy hier verby die 500m merk gaan. “Lê houding laai! 5 skote. Eie tyd. Eie teiken. Gaan aan!

Voor jy die skietbaan kon verlaat moes elke liewe doppie opgetel word en jy moes die verklaring aflê. Die bevel was “Vir inspeksie, hou geweer! Verklaar! “ dan antwoord jy: Ek verklaar, geen skerppunt ammunisie, doppies of dele daarvan in my besit nie” Die onoffisiële weergawe was “geen tenks, ratels, mortiere of landmyne in my besit nie” Maar dit was slegs as die range nie gehoor het nie.

Uiteindelik terug by die basis teen 10 of 11uur op ‘n Vrydagaand na jou draffie van die skietbaan af moes daai gewere skoongemaak word vir Saterdagoggende se groot inspeksie. Die heel vinnigste manier om dit te doen was om die geweer uitmekaar te haal en met Preen te spuit en dit dan saam te neem stort toe. Natuurlik was jy in diep donkerbruin as jy gevang was, en natuurlik moes jy daai wapen so gou moontlik droog kry na die stort. Dit het baie gehelp as jy dit met vuurwarm water kon afspoel wat vinnig verdamp, maar warm storte was nie altyd vir almal beskore nie.

Na afloop van Wapenfase het jy volwaardig skutter geword en was jy nie meer ‘n rekruut nie. Jy het ook jou stable belt, skouerflashes en beretwapen verdien. ‘n Trotse dag inderdaad. Ons het ook die eerste keer naweekpas gekry. Met twee maande se soldy (teen ‘n volle R 211.45 per maand) in jou sak as bonus!

4Sai

Beret, krawat, stable belt en skouer flashes. Elke kleur en wapen het n spesifieke betekenis. Groen is die kleur vir infanterie. Die skouer flash regs bevat die eenheidskenteken (4SAI) Die leeu verteenwoordig kommandement Oos Transvaal. Die sirkel op die linkerkantse flash verteenwoordig Charlie kompanjie. Beret en beltbuckle wapen verteenwoordig 62 Mech veggroep

Na pas was daar slegs die bosfase deel van ons opleiding oor voor ons ontplooi sou word. Die rondfok was nou verby het die sammajoor gesê. Hy het gelieg…ok miskien nie heeltemal nie. Rondfok was dalk wel verby, maar die opfokke om te kom was veel erger. Persoonlik het dit my niks gepla nie. Die herhinneringe aan my eerste naby kennismaking met daardie twee fluweelsagte net‐mooi‐een‐hand‐vol bolletjies vrouvlees was genoeg om my te dra deur na die warmplek toe en terug as dit sou moes. I was industructible and bulletproof en flippen verlief…en blouvitterjoel het nie gewerk nie!

Bosfase

Sticks. LMG. Patrollie en O.H. drills. Black is beautiful
Bosfase is die laaste fase van jou opleiding waarin jy geleentheid kry om alles wat jy tot dusver op die skietbaan en in lesinglokale geleer het prakties toe te pas. Die groot prys is om te gaan deelneem aan die weermag se jaarlikse gevegsoefeninge op Lohatla in die Noordkaap.

Gedurende hierdie fase word jou peletons in 7 man seksies (sticks) opgebreek, 4 sticks per peleton. Hierdie sticks is die kleinste gevegseenhede van die infanterie. Elke stick het ‘n blygemaakte troep (oneliner korporaal) of soms ‘n two liner as seksieleier en ses skutters waarvan 1 poephol (dis nou ekke) die LMG gunner is. Die LMG gunner en die LMG twee is daai ouens in die flieks met die patroonbelde so oorkruis op hulle bors. Nog ‘n ander sucker en sy pêl was patmor (60mm patrollie mortier) een en twee. Ons het altyd kompetisies op die skietbaan gehou om te kyk wie kan die meeste mortiere in die lug sit voor die eerste een val, aanvanklik net met die 60mils, maar later ook met die 81’s agterop die ratels.

Ewenwel, daar was weer nuwe vaardighede om in te oefen en bestaandes om op te skerp. Patrollie drills, box formasie, wigformasie, lynformasie. O.H. drills (onmiddelike handeling) Wat om te doen as jy kontak slaan… Dash‐Down‐Crawl Observe‐Sights‐Fire . . .letterlik en figuurlik. Die tracers in die LMG het aanhoudend die veld aan die brand gesteek. Die Pietie met die groot kettie (dis nou ekke) maak vir die naaste stukkie hoëgrond om dekvuur te bied. Natuurlik wil niemand die LMG gunner ken nie, want met daai BFG kon hulle netsowel ‘n bleddie bullseye op jou rug geverf het. Tussen alles moes jy vuurleiding bevele skreeu en komms hou met jou buddie terwyl julle vuur en beweging toepas. Natuurlik gebeur dit alles met lewendige ammo, so die range is ekstra hard op die geringste foutjie. Al ooit ‘n LMG opfok gehad? As jy het sal die woorde Wissel! Wissel! Wissel! herhaaldelik ad infitum vir jou betekenis hê. Boonop was daai LMG ‘n cast iron bitch om skoon te maak, en gedurende onderhoudende vuur moes jy kort‐kort lope ruil om te keer dat die loop nie oorverhit nie.

Dan was daar die eindelose hinderlaagoefeninge. Jy kamoefleer jouself en neem hinderlaagposisie in op ‘n vooraf afgeproke plek. Dan loop die range deur jou stelling ek probeer jou raaksien. As jy gesien word wen jy ‘n lekker oppie. As jy of een van jou maatjies aan die slaap raak (wat baie gebeur het) wen jy ‘n oppie. Die black‐is beautifull (swart kamoefleerroom) begin naderhand jou vel permanent verkleur soos dit in jou sweetgaatjies intrek. Dit brand ook die blou bliksem uit jou uit as dit in jou oë beland.

Ons het ook ons eerste twee casualties gehad. Een ou het ‘n dowwerd raakgeskop en die ding het gedetoneer. Hy was ‘n rukkie in 1 Mil, maar hy het volkome herstel. Die ander ou was nie so gelukkig nie. Ongelukke gebeur, selfs in opleiding.

Witgoud en gyppoguts
Dit is ook gedurende bosfase dat jy waarde van witgoud (toiletpapier/kêkking paper) leer, gewoonlik na aanleiding van ‘n ernstige geval van gyppoguts (spuitpoep). Meeste van ons het op een of ander stadium (en gewoonlik gelyktydig) gyppoguts gehad, aangebring deur ‘n kombinasie van die oorskakeling na ratpacks en minder as silwerskoon dixies en eetgerei… en natuurlik die kos wat die chefs soms uit die basis aangery het wat dan te lank in die hotboxes in die son gestaan het. Het jy jouself al ooit so beskyt dat jy jou overall se broekspype onder moes losmaak sodat die ergste stront kan uitloop? Het jy al ooit in jou haas om jou overall los te maak sodat jy jou gyppogutspens kan ledig met ‘n veldtie, vergeet om seker te maak die overall is mooi uit die pad uit en dan in jou overall se kraag geskyt? Ja toemaar lag maar . . . die wat weet, weet.

Synde dat witgoud so skaars kommoditeit was, kon mens nie kwistig daarmee omgaan nie. Daar was ‘n korrekte manier om dit te gebruik:
• Skeur een blokkie toiletpapier van die rol af.
• Vou nou die blokkie eenmaal oorkruis om ‘n driehoek te vorm.
• Bring nou die verste punte bymekaar om ‘n kleiner driehoek te vorm
• Skeur die binnekanste hoek versigtig af en bêre dit in jou hempsak
• Vou die blokkie weer oop, as jy dit reg gedoen het sit daar ‘n gat in die middel.
• Doen jou besigheid, steek dan een van jou vingers deur die gat. Vee jou stert af met jou vinger en gebruik dan
die papier om jou vinger skoon te vee. Die hoekie in jou hempsak is om jou nael mee skoon te maak

Mech Infanterie
Gelukkig vir my was 4 SAI ‘n Mech infanterie batteljon, wat beteken het dat ons wiele gehad het om te kom tot waar die fight is. Dit het my die gaping gegee vir my 2de groot gyppo truuk van my army loopbaan (die eerste een was rugby) Seker so 3 weke in bosfase in staan ons een oggend op parade toe die Sammajoor afkondig dat hulle kort is aan 20 drywers, en dat die eerste 20 ouens wat voor hom aantree die job kan kry. Ek dink ek was 3de, en het ten minste 2 ouens platgehardloop in die proses. Ek het my LMG ingeruil vir ‘n stuurwiel. Jungle justice Murray was vir my hoogs die moer in, en my opfokke was nou sommer elke keer as hy my gesien het.

Al die drywers het kwalifiseer in al die voertuie (ja ons het kwalifiseer. K53 toets geskryf met padtoets en alles) Op die ou end het ek lisensies gehad vir Ratel, Buffel, Samil 20, 50 en 100, KwêvoëL, Mamba, Vistenk (riot bakkie), Casspir, Kudu, en nog ‘n klomp los odds & ends. Ek was eintlik bly toe ek ingedeel word as echelondrywer (voorade konvooi), veral na die insident op die skietbaan toe die oneliner “vergeet” het om die browning in die toring se bin aan te haak en ‘n halfdosyn rooiwarm doppies agter in my nek ingeval het toe hy ooptrek. Die bleddie ratels het ook kronies probleme met die “toffee box” (ratkas konsole) gehad, en het kort‐kort gaan staan. ‘n Kwêvoël met ‘n hyskraan was uiteindelik my toegewyste voertuig.

Radio’s en roepseine
Met soveel voertuie aan die beweeg was dit natuurlik belangrik om comms te hê. Jy moes ‘n helse hoop goed memoriseer sodat jy kon weet met wie jy praat, en of daar met jou gepraat word. Heel eerste moes jy die weermag se fonetiese taal leer.

A – ALPHA                           N – NOVEMBER
B – BRAVO                            O ‐ OSCAR
C – CHARLIE                        P ‐ PAPPA
D – DELTA                             Q ‐ QUEBEC
E – ECHO                                R ‐ ROMEO
F – FOXTROT                        S ‐ SIERRA
G – GOLF                                T ‐ TANGO
H‐ HOTEL                               U ‐ UNIFORM
I – INDIA                               V ‐ VICTOR
J – JULIET                            W ‐ WHISKEY
K – KILO                                X – X‐RAY
L – LIMA                               Y ‐ YANKEE
M – MIKE                              Z – ZULU

Dan was daar die roepsyne. Enige iets met ‘n zero in het beteken jy praat jou met iemand in bevel. Die eenheidsbevelvoerder se roepsein was ZERO en sy 2IB was ZERO BRAVO of ZERO TWEE. Die regiment Sammajoor was ZERO FOX(TROT)

Dan het jy die bevelvoerders van die 3 kompanies gehad EEN ZERO, TWEE ZERO, DRIE ZERO waar die eerste syfer verwys het na jou kompanie. Een = A = ALPHA kompanie. Ons was CHARLIE kompanie so ons chief se roepsyn was dus DRIE ZERO

Elke kompanie het bestaan uit 3 Peletons, met elkeen sy eie peletonbevelvoerder. Hulle was DRIE EEN (ZERO), DRIE TWEE (ZERO) en DRIE DRIE (ZERO). Verder het elke peleton bestaan uit vier seksies, elkeen met hulle eie ratel. Peleton een se seksies was dus DRIE EEN ALPHA, DRIE EEN BRAVO, DRIE EEN CHARLIE en DRIE EEN DELTA

Die echelon of ondersteuningsgroep het onder bevel van die kompanie sammajoor gestaan. Sy roepsein was DRIE ZERO FOX(TROT) en die vertuie onder sy bevel in nommerorde rangskik DRIE ZERO FOX EEN, DRIE ZERO FOX TWEE ens. Ek was DRIE ZERO FOX VIER

Op ‘n besige dag moes jy wel oor ‘n honderd roepseine onthou.

Staalparade en bosbusse
‘n Ongelukkige nadeel van drywer wees was ongelukkig die weeklikse staalparade. Daar moes jy jou voertuig in wafferse showroom styl uitstal met die deure en klappe alles oop en die gereedskap en toebehore netjies uitgepak op ‘n seiltjie voor die voertuig. Behoede jou siel as daar ‘n sweempie van stof iewers in, op of onder jou voertuig gevind is. Die mees algemene strawwe was tyreflip of towbar. ‘n Ratel se sleepstang weeg ongeveer 90kg, selfs tussen 2 manne raak die ding vinnig swaar. My sammajoor se gunsteling party truuk in die veld op Doringkop was om jou en ‘n buddy ‘n radio en towbar te gee en jou pad‐af te stuur met die opdrag “ek sal jou roep as jy kan omdraai” Eendag het hy van my en Schonfeldt vergeet, toe hy uiteindelik onthou was ons onder in ‘n vallei agter ‘n koppie en die A53 radio het nie komms gehad nie. Dit was ‘n redelik bleek sammajoor wat ons later die dag uiteindelik met sy bakkie ingery het.

‘n Bosbus was ietwat van ‘n meer ernstige besigheid. Daar is ‘n medic opgelaai en jy is opgefok tot jy bly lê het. Dan het die medic jou begebring en het jy verder gaan deelneem. Lekker.

Uiteindelik is net ‘n paar van ons (meestal drywers) Lohatla toe. Die nagebootste nagaanval was awsome. Eers waar daar amper sports toe die kanondonkies verkeerde koordinate gekry het en HE (High Explosives) ongemaklik naby aan waar ons gesit en wag het om die ratels te resupply, gedrop het. My Kwê was vol ammo, so daar was ‘n paar benoude oomblikke. Gelukkig het iemand staak vuur geroep, die ruitverwysings is uitgesort en die HE het op die regte plekke begin reën. Toe was dit die ratels se beurt. Doef.. Doef.. Doef klop die 20mills….BOOOOOOM antwoord die 81’s en 90’s.
Absoluut awesome.

Ontplooi
En so gou was dit verby. Ons was ten volle opgelei en oppad na ons ops ontplooing toe. Die bosoorlog was verby, ons drie peletons is ontplooi by Macadamia basis (Alpha). Ops gebied ‐ Mosambiek en Swaziland grens. Thokoza township op die oosrand (Bravo) en Dingwill basis (Charlie) Ops gebied ‐ die voormalig Kangwane tuisland en townships rondom Nelspruit, o.a Kanyemazane. Seksies en soms peletons is tussen die basisse geskuif soos en waneer nodig. Dit was 2 jaar voor die ’94 verkiesings en die land het gebrand. Ons was redelik besig, en dalk was dit ‘n goeie ding. Maar dis ‘n storie wat dalk eerder weggebêre moet bly.

Donker dae

Soms het iemand wat jy ken in ‘n swart body bag teruggekom. Jy moes eenvoudig deel daarmee. Gelukkig was jy half voorbereid op sulke gebeurtenisse, maar dit was die slegte nuus van die huis af wat jou onkant gevang het.

Dit was ‘n warm dag. Helwarm. Dit was skaars elfuur en die kwik was alreeds hier naby 40 grade. ‘n Maandag as ek reg onthou, hoe sal dit dan anders wees? 9 November 1992. Ons het pas teruggekom by die tydelike basis, ongeveer halfpad tussen Komatipoort en waar Samora Machel se vliegtuig geval het. Die Kaptein was die moer in, die manne was moerig. Deur die nag het ‘n groep kruisers van bykans 50 sterk ongesiens by ons verbygekom, van hulle het verseker AK’s by hulle gehad. Nie om ons skade te doen nie, maar om te verkoop vir kosgeld. Die ouens wat die goed by hulle gekoop het is ‘n heel ander storie. Gegewe die massiewe spanning wat in die land geheers het op daardie stadium maak die feit dat ’94 ooit gebeur het soveel meer merkwaardig. Maar ek dwaal . . . wat kon ons doen? Ons is 2 sticks van 7 man elk wat bykans 10km grenslyn moet oppas. 2 Uur sal ‘n paar spoorsnyers van 101 en ‘n groepie eks 32 manne hier aankom, dan sal ons die kruisers gaan soek en probeer voorkeer. Net genoeg tyd vir ‘n vinnige ietsie om te eet en dalkies ‘n uur of wat se slaap.

Die radio raas hier agter my iewers, kort daarna hoor ek hoe die seiner van bivvy na bivvy loop en soek na my. Ek roep na hom en hy kom deur die bos aangesukkel. Maré, jy moenie saam met die manne gaan op hierdie ops nie. Jy moet die transport vat wat die 101 en 32 manne bring terug macadamia basis toe, Sammajoor Jones is oppad van Witrivier af. Hy wil jou sien. Ek is seker ek het ‘n paar keurige sinne daaroor te sê gehad. As die sammajoor jou wil sien was dit nooit ‘n goeie ding nie, maar probeer soos ek wou, ek kon aan niks dink wat ek verkeerd gedoen het nie. Al wat ek aan kon dink is dat dit nog ‘n debrief was oor die opstoker wat ek geskiet het so 2 weke gelede. Jy kan nie die hoeveelheid papierwerk glo at so insident veroorsaak nie. Tevrede dat dit was waarvoor die sammajoor oppad was het ek aangegaan om tee et en bietjie te rus.

Kort voor 4 uur het ons Macadamia ingery. Sammajoor Jones se blou bakkie was reeds voor die menasie parkeer. Ek het my kit afgelaai en oorgedraf menasie toe. Sammajoor Jones het die Kapelaan saam met hom gehad en die hitte het skielik uit die dag verdwyn.

Skutter Maré . . . blah . . .blah jammer om jou mee te deel . . . blah . . . blah Kry jou goed, jou mense is oppad . . .blah blah . . .
Die res van die aand is ‘n blur, die rit agter op die sammajoor se bakkie terug Dingwell toe, die rit Pretoria toe saam met Steyn en ‘n pel van hom. Sy was daar . . . nog ander familie. Later net sy.

Daai nag het ek gehuil, sy het my getroos. Dit was die laaste keer wat ek gehuil het. Ek dink dit was dalk ook die laaste keer wat ek gelag het, die dag toe my wêreld gaan stilstaan het. Die dag toe sy my op my swakste ervaar het, die dag toe niks ooit meer dieselfde sou wees nie.

Ek mis hom vreeslik. Somtyds in my gedagtes kan ons weer skaak speel en nonsens praat, soos daai laaste paar maande toe ons uiteindelik ons konneksie gevind het. Dit was 25 jaar gelede, my sielkundige sê ons maak vordering in die proses om dit te verwerk.

Nabetragting

Met groot opgewondenheid neem ek die van Helsdingen een Vrydagmiddag in 2007 Witrivier toe sodat ek haar kon wys waar ons ou weermagbasis is. Dinge het egter bietjie verander sedert ek daar was 15 jaar gelede, en eers met die derde poging het ek die korrekte afdraai gekry na Dingwell basis toe, gesetel in die vallei knap duskant Witrivier.

Ek weet nie wat ek verwag het na soveel jare nie, maar dit wat ons gekry het was ontstellend. Geen drade of hekke nie, die gras wat kophoogte op die paradegrond groei, die kaal bouvalle van die HK gebou en die ergste van alles – die klipkroegie wat ek en Visagie letterlik met ons eie hande gebou het, is afgebreek en daar staan nou ‘n plakkershut! Die groot “flattop” acaciaboom waaronder daar briewe geskryf en gelees is, of sommer net gedink is, is lankal vuurmaakhout. Die piesangbome wat ons voor die laning tente geplant het, groei wild en onversorgd. In skrille kontras staan die menasiegebou – ‘n toegeboude sinkstoor – nog net soos ons hom gelaat het, nie ‘n enkele sinkplaat of venster gesteel nie.

Altyd as ek sulke murasies langs die pad sien, dan wonder ek. Mense het daar gewoon, daar is geskiedenis, daar is ‘n storie. Die murasies van Dingwell basis het my laat besluit dat hierdie een se storie sal vertel word. Hier is dan ‘n kort gedeelte uit die verhaal van Dingwell basis soos ek dit onthou.

Dingwell was na die Suidwes oorlog die ontplooinings basis van 4SAI se Charlie kompanjie. Diensplig is afgeskaal na 1 jaar toe, en vir die eerste 6 maande van die jaar, terwyl die nuwe inname opleiding ontvang het in Middelburg, het kampers die fort gehou. Vroeg in Julie is die kampers huis toe gestuur en het die nuwe inname troepe van 4SAI – pas klaar opgelei – hulle intrek geneem. My inname was geensins anders nie.

Ek was deel van die voorspan, ons het so week voor die hoofgroep aangekom, en dit was ons taak om die kamp voor te berei vir die res. Tente is opgeslaan, paradegrond skoongemaak, proviant en amunisie aangery en gestoor en ‘n miljoen ander takies wat moet aandag kry om dit moontlik te maak om 130 soldate vir 6 maande lank te huisves. Vir die volgende 6 maande was ons die “thin red line” Saam met die plaaslike polisie moes ons ‘n area wat strek van Witrivier tot Hazyview, van Hazyview tot teen Krokkedilbrug al teen die wildtuin om tot weer in Nelspruit beskerm. Dit was die tuisland Kangwane. Die land was in “state of emergency” – onthou die was voor ’94 – en daar was bloedige betogings orals. Ons funksie was beide TEIN stedelik en TEIN platteland, maw ons het betogings opgebreek en terroriste selle in die woonbuurtes gesoek, maar ons het ook die buitewyke patrolleer en wapenopslagplekke en infiltrasieroetes vanaf Zim, Mosambiek en Swaziland gesoek. Die patrollie siklus was gewoonlik 2 weke uit, 1 week in en Dingwell was waar jy jou tyd spandeer het as jy in was.

Ek onthou nog die tent laan, elke peleton het 4 tente – 1 vir elke stick. Peleton 1 se tente heel voor, dan peleton 2, 3 en dan ons – HK peleton – klerke, chefs en drywers (ek was een van laasgenoemde). Korporaal Trichard by peleton 1, Pelser by 2, Taljaard by 3 en Groenewald by ons. Ek onthou vir mal Richter – hy het meer weermagvoertuie ge-US as die res van ons saam, Schonfeld van Ermelo, die 2 Bothas, Gavin en Vlieg en Mens en Visagie en Tiffy. . . en ‘n klomp ander wie se gesigte steeds helder voor my geestesoog staan maar waarvan die name al vervaag het. Dit was die manne wat van Dingwell huis gemaak het.

Saterdagaande is daar gebraai – almal wat in die Basis was kry ‘n vleisie en ‘n worsie, daar word vuur gemaak en gekuier – die weermag se kwota van 2 biere per man word oor die hoof gesien, more gaan ons weer uit op 2 weke patrollie en dan is dit ratpacks en water! Ek onthou die bosbusse as die diere van die dieretuin vuil gelaat is omdat ons eerder wou gaan braai. Ons het van alles in die dieretuin gehad, buffels, ratels, spinnekoppe, mambas, kwêvoels en vistenks. En as jy hom gery het, moet jy hom was, anders vat kpl. Groenewald jou vir ‘n lekker draffie deur die countryside!

Ek onthou die dear Johny’s, die verjaarsdae, die parades, wasdag, patrollie, verlang, moeg, honger, vuil. . . en af en toe die absolute stilte in die kamp as een man nie teruggekom het nie.

Ek onthou jou Dingwell basis, ek onthou die manne wat saam met my daar was. Ek sal julle nooit vergeet nie! Mens, Vlieg, Grasmuis, Oros, Stancke, Schonfeldt, Mal Richter, die Bothas, Visagie, Tiffie, Kpls “Apie”Pelser, “Tallies” Taljaard en Groenewald, Sam Jones, Johny “issie dood nie” Tshapralis, Bobbie, Gavin Nyland ‐ my drinkebroer en gaurdian angel, Brilmonster, Groot Caspir, en al die ander wie se name en gesigte al vervaag het. Ek hoop julle ouens is gesond en happy. Cheers! Op die lekkerste tyd van ons lewens, wat ons nooit weer wil oorhê nie.

My pa se lorrie

♪ My pa se bakkie is ‘n ou masjien . . . ♪

Daar word van ‘n Ford kar gesê dat as die ding nie olie lek nie, het hy nie olie in nie, en dit is nie ‘n lieg nie. Daar word ook gesê dat die kenteken van ‘n Ford kar eens rond was, maar het later ovaal geword van al die kere wat jy die enjinkap toegebliksem het na jy aan die ding moes werk. Rook en kook is nie verniet ‘n Ford se middel name nie. Partykeer moet jy net hardop sit en lag vir jouself hier diep uit jou maag uit terwyl jy op die sypaadjie langs jou stukkende of brandende Ford sit en wag vir die insleepdiens of die brandweer.

Ek besit ‘n stokou bakkie wat ek van my se Pa ge-erf het. Maar nie sommer enige ou bakkie nie, hierdie een is ‘n classic! (dit is nou mechanic speak vir die ding is ‘n wrak)  1979 model Ford F250. Die ou ding is so groot, sy draairadius is omtrent 3 voetbolvelde. Hy is so stadig, sy speedometer is in maande gemerk, en hy is so oud, as hy ‘n radio in gehad het sou die draadloos nog op hoogholands gespeel het. Nou die dag het die versekeraar vir my ‘n polisdokument gestuur saam met die verhoging van die versekeringspremie. Die dokument is nog in Latyns geskryf op ‘n papierusrol, en daarin lees ek dat ek nog verseker is teen Viking strooptogte.‘n Regte-egte honest to goodness plaasbakkie.

Soos al die ander tranesport op die werf het hy ook ‘n naam. Sy naam is Bees, want hy is groot en hy is sterk en hy vreet bleeksiele vir brêkfis. Die van Helsdingen is lief om te spot en vir ou Bees aan te spreek as Eltietie, vanwee sy nommerplaat LTT…en my dan te paai deur te sê sy bedoel eintlik Eltorro, maar die disleksie het haar weer oorrompel. Vrouens verstaan eenvoudig nie die band tussen ‘n man en sy bakkie nie . . .Ek bedoel ons is dan eintlik die eenvoudigste wesens om te verstaan. Daar is nog baie ander net soos die een, maar hierdie een is spesiaal. Mooi is die ou ding nou wragtag nie, en die 5.1 liter masjien suip petrol teen ‘n tempo wat Sol Kerzner sal bekommerd maak.

Die bakkie self het Pagoed ongeveer 1985 tweedehands gekoop as ‘n bederfie vir homself nadat hy die bakkie waarmee hy op daardie stadium gery het een more oppad werk toe gerol het in ‘n bisarre insident met sy pyp . . . of so word daar vertel in elk geval. Ek het gehoor dat die kleiner weergawe van Bees se monster-in-gelid-6-silinder-masjien later jare in die Titanic en in die QE2 gebruik is.

In kort, ou Bees is vir Storieklong baie sentimenteel. In die maer jare na Pa se dood en Ma haar werk verloor het, was Bees die verskil tussen eet en honger gaan slaap. Bees is wat help betaal het aan Stories se geleerdheid. Daardie symste geleerdheid wat ou Bees my help verdien het verhoed my deesdae om vir Bees nog enigsins te gebruik behalwe op die rare geleentheid waar ek op ‘n naweek dalk vir Bees onder sy dak sal uittrek, hom ‘n lekker was gee en dan ‘n draai deur die woonbuurt gaan ry om jong seuntjies met hulle dinkytoy Jap-karretjies en Minibus-taxis goed bang te maak.

Vandag ry ek omtrent net stortingsterrein toe en terug met Bees. Dalk nou en dan ysterwarewinkel toe om groter items op te laai. Die ou grote het steeds die vermoë om jou gelyktydig onvernietigbaar, skytbang en erg dankbaar te laat voel. Onvernietigbaar as jy die taxibestuurder se groot oë in sy spieëls sien soos hy die massiewe chroom buffer in sy agterruit angstig dophou, en jy kan nie help om so effense giggel te ontwikkel nie. Nie nou meer so wintie nie, né meneer taxidrywer. Skytbang as die remligte van die beemer of masepa benz voor jou skielik aankom en jy besef jy is dalk hopeloos te naby om hierdie tenk betyds tot stilstand te bring. Dankbaar terwyl jy jou oogballe afskil wat soos vliegstront teen die windskerm vasgeplak het toe die remme op die laaste nippertjie gevat het en jy nie bo‐oor die stoepid Germaanse stuk blik gery het nie.

Alles het ‘n tyd van kom en ‘n tyd van gaan, maar ek wil nie regtig nie want ek lief daai ou lorrie. Dit is immers feitlik die laaste tasbare skakel wat ek met my Pa het, maar dit voel ook nie reg om ou Bees net te los en hom te laat oproes in die agterplaas nie. Iewers daar buite is dalk ‘n eienaar wat vir Bees net so lief sal wees as ek, en wat dalk die fondse het om hom mooi te restoureer.

20170419_144444

 

Die perfekte vel(d)tie

Dit was nog ‘n harde dag se viertrek swoeg deur die bos maar uiteindelik is jy by die uitspanplek. Die kamp is gemaak en die germaanse bruisdrankie gly behaaglik in jou keel af. Dis nou die lewe, die laaste mens benewens dié in jou geselskap is ten minste drie dagreise ver … as jy ‘n goeie perd het. Dan tref dit jou: More oggend stiptelik om vyf en twintig minute oor ses gaan jou maag doen presies wat jou boks All Bran Flakes belowe het, en die naaste spoeltoilet is daar waar julle laas mens gesien het…

Moenie onverhoeds betrap word nie. Dieet, oefening en goeie beplanning is die sleutel tot ‘n geslaagde vel(d)tie. Dieet eerste. Hardlywigheid is nie iets waarmee jy wil sukkel wanneer daar ‘n opelug nommer twee gepleeg moet word nie. Eet jou all bran en drink genoeg water. Doen getrou jou hurksitte (squats) by die gimnasium want by gebrek aan ‘n sitplek gaan jou bobeenspiere die werk moet doen. Inkorrekte vorm eindig gewoonlik op in ‘n baie lelike gemors teen die agterkant van jou hakskene.

Vertrek betyds. Anders as om die troonkamer op te soek kan die perfekte plek vir ‘n vel(d)tie soms ‘n bietjie tyd neem om te kry. Beplan twee keer, loop een. Jy gaan ‘n graaf nodig hê om ‘n gaatjie te maak waarin die bewyse na die vertoning begrawe kan word, en ‘n rolletjie witgoud. Indien jy wonder hoekom dit witgoud genoem word, wag net tot jy dit in die kamp vergeet het omdat jy van haastigheid te vinnig moes hardloop. Staan in die kamp en draai in die rondte totdat jy die windjie op jou gesig voel blaas, draai nou 180 grade en stap in daardie rigting – wind af. Onthou ook om die ander kampbewonders in te lig van jou intensie (as die graaf en rolletjie witgoud onder jou arm dit nie reeds weggegee het nie). Beide die wind af en die waarskuwing is daar ter beskerming van die onskuldiges.

Nou stap jy tot jy nie meer die kamp kan sien nie. Die temptasie is groot om ‘n klipkoppie uit te soek ter wille van die uitsig, maar die gat grawery kan nogal problematies wees, so hou maar by die sanderige dele. Voor jy die gat grawe maak doodseker dat dit nie op of naby ‘n miershoop is nie want daardie moment as jy op jou weerloosste is is regtig ‘n slegte tyd om uit te vind waarom daardie groot rooi miere balbyters genoem word. Posisioneer jouself nou sodat die uitlaatpyp reg bo-oor die gat is met die bene teen ongeveer ‘n negentig grade hoek. Dit is hier waar die dieet en oefening jou goed te pas gaan kom. ‘n Losserige magie het die geneigdheid om te wil spat terwyl ‘n harde magie jou jou oë gaan laat toeknyp van die druk en dit is nie ‘n goeie idee in leeuwêreld nie. Terwyl jy so balanseer moet jy die heeltyd observeer of ou vuilbaard nie dalk oppad is om sy koue neus teen jou boud te kom druk nie. Die perfekte resultaat behoort ietwat soos ‘n draairoomys te lyk.

Maak die gat versigtig toe en bind ‘n repie van die witgoud om die naaste bossie vas om ander potensiële kliënte te waarsku teen die landmyn wat reeds daar geplant is. Ter wille van die onskuldiges. Begin nou solank oefen, die perfekte vel(d)tie is baie meer as bloot hurk, druk en skrop.

Koffie teen die muur

Hierdie stuk is NIE my breinkind nie, toe die vermoë om goeie idees uit te dink uitgedeel is was ek in die kosry. As gevolg van die ingeboude oneerlikheid en gierigheid van homo sapiens sal dit waarskynlik ook nooit prakties werk nie, maar dit bly ‘n dêm goeie idee nieteenstaande.

Twee vriende sit eendag in ‘n koffiewinkel in Europa, elkeen met‘n koppie van die goeie goed. ‘n Man kom in van die straat af en neem plaas by die leë tafel langsaan.

Hy roep die kelner nader en plaas ‘n bestelling vir twee koppies koffie, een vir hom en een vir die muur. Die twee vriende se nuuskierigheid is onmiddelik geprikkel en nou hou hulle die transaksie onderlangs dop. Die man word een koppie koffie bedien en toe hy opstaan betaal hy vir twee en stap uit. Die kelner kollekteer die geld en stap na een van die mure in die winkel toe en plak ‘n stukkie papier daarteen vas waarop staan 1x Koppie Koffie

Terwyl hulle daar sit speel dieselfde scenario hom nog verskeie kere af. Mense bestel koffie vir hulleself en ekstra vir die muur. Na hulle betaal en geloop het plaas die kelner ‘n plakker of plakkers teen die muur gelykstaande aan die hoeveelheid ekstra koffies wat die besoekers vir die muur bestel het.

Dit het vir die vriende voorgekom asof die gebruik ‘n instelling was by die winkel. Synde dat hulle vreemdelinge was daar het hulle nie gevra nie en bloot die rekening betaal en verkas

Soos die voorsienigheid dit wou hê bevind hulle hulself weer in dieselfde koffiewinkel so ‘n paar dae later. Terwyl hulle daar sit kom ‘n man binne en aan sy kleredrag en algemene voorkoms is dit duidelik dat hy nie inpas by die atmosfeer en gereelde klandisie van die winkel nie. Toe hy gaan sit vra hy die kelner vir ‘n koppie koffie van die muur af.

Na hy sy koffie klaar gedrink het staan hy op en loop sonder om te betaal, en toe hy weg is haal die kelner een papiertjie van die muur af en gooi dit in die asblik.

Koffie is nie ‘n noodsaaklikheid vir ons oorlewing nie, maar ons put ‘n bietjie plesier daaruit. Dit is dalk nodig om daaraan te dink dat mense wat dit nie noodwendig kan bekostig nie ook ‘n bederf per geleentheid sal waardeer. Die behoeftige man kan by die koffiewinkel instap en ‘n koffie bestel sonder dat sy waardigheid aangetas word, want hy hoef nie die voorsienier daarvan te sien of te vra nie. Hy hoef bloot na die muur te kyk en te bestel. Hy word ook met dieselfde respek bedien soos enige ander klient, want dit wat hy bestel is nie verniet nie. Dit is voor betaal.

Briljant né?

Anti‐theft Mcgyver alarm dinges

Weereens, met erkenning en dankbaarheid aan die oorspronklike verteller (onbekend).

Die jaar is 1991 en die 80’s is nog vars in die geheue. Meeste kinders van my ouderdom het nie ‘n clue wie Nelson Mandela is nie en bomber jackets is vrek cool.

Ek was op daai stadium in matriek (graad 12 vir die nuwe SA.) en my broer het my pa se geld gemors by Tegnikon Pretoria. Sy een tjommie, Bennie (dis ‘n fake naam,) was blykbaar daai tyd al gatvol vir die crime want ou Bennie het sommer sy eie anti-theft device ontwerp, gebou en in sy Mini geinstalleer. Hierdie anti-theft device was basies een van daai ou Rambo messe wat onder die drywer se sitplek monteer was met een of ander moerse spring wat dan die mes deur die seat steek as jy gaan sit. Bennie het dan net elke keer hierdie hol oopkloof apparaat geaktifeer as hy uitklim en dan weer gedeaktifeer voor hy weer inklim.

Die een aand gaan Bennie toe ‘n bietjie disco toe om vir almal sy moves op Belinda Carlisle te wys. Ek was nog effens te jonk vir jol daai jaar so ek weet nie waar dit was nie, maar dit moes êrens soos Zillertal of Jacquelines of een of ander tappit plek gewees het.

Die Brannas het mooi geloop die aand en Bennie het vir die 1ste span gesuip.

Hy strompel toe in die vroeg oggend ure terug kar toe en te dronk om regop te staan vergeet hy van sy rektum destroyer device onder die sitplek.

Die Anus verwoestings apparaat werk toe beter as wat Bennie ooit in sy wildste drome kon droom. Die lem het ‘n pad boontoe oopgeskiet en Bennie se nul was ewe skielik ‘n minus.

Na die initial skok en nugter skrik wou hy uitklim maar dit was ook nie so maklik nie want jy kan maar vir enige moffie vra en hy sal vir jou se dat jy reguit boontoe van ‘n paal afklim en nie kant toe nie.

Bennie was hospitaal toe en ‘n paar goeie snydokters later het sy stront nie meer soos ‘n fax uitgekom nie. Hy het vir ‘n paar weke mank geloop en hy kon nie lekker sit nie maar alles het toe weer genees.

So, as jy weet jy gaan gesuip en in jou kar klim, moenie gaan vir die bottle brannas met gif in .. of die lem onder die seat .. of die spykers wat in jou kniee inskiet as jy die kar start opsies nie.

Vat maar eerder jou kar vir daai ander mense lat hulle vir jou ‘n gearlock of iets insit.

Die dag toe Jamball amper langboompies toe is

Hoekom die oukêrel my Jamball genoem het weet ek nie, hy is graf toe met daardie geheim voor ek kon vra. Ewenwel, partykeer dink ‘n mens terug aan die maltrap goed wat jy aangevang het in jou onvernietigbare stadium, en jy wonder hoe jy heelhuids uit party van daai episodes gekom het. Hierdie spesifieke een wonder ek nou nog oor, veral oor hoe ‘n spesifieke deel van my huid ‐ synde die sitgedeelte, ongeskonde gebly het.

Ons was seker so standerd sewe of agt (graad tien in die moderne era). Ons rugbywedstryd was baie vroeg dievolgende more, en my beste pêl het by my oorgeslaap sodat sy ma’le nie nodig had om so vroeg al die pad van die plotte af te ry nie. Sommer kort duskant 9 uur het ons vir die oumense nag gesê onder voorwendsel dat ons maar gaan inkruip sodat ons kan uitgerus wees vir die rugby.

Natuurlik was dit glad nie die geval nie, ons het skaars die kamerdeur toegemaak of ons is by die venster uit (daai tyd was diefwering en sulke goete ongehoord), om die huis en oor die muur, oppad na ‘n ander pêl toe wat allen tuis was. Daar het ons gebraai en knertsie genuttig en sy Pa se wegsteekboekies bekyk en in die algemeen gemaak asof ons groot is. Veel later is die twee heelwat minder vlugvoetige kêrels wat die pad huis toe neem.

Nou is dit mos nou so dat wanneer ‘n man ietsie in het dink jy jy beweeg baie meer klandestien as wat werklik die geval is. Stil soos twee muise, altans so het ons gedink, is ons weer oor die heining en om die huis tot by my kamervenster aan die agterkant van die huis. Die eerste wat ek onraad vermoed was toe ek die gordyne wegstoot om in te klim en ek kyk in die onverbiddelike bek van die haasboud vas, met die ewe onverbiddelike gesig van my pa daaragter. Nog nooit het ek so duidelik en vinnig gepraat en myself identifiseer nie. Al wat pa gesê het is ja toe, loop slaap nou.

As dit nie was vir die groot moeg, aangebring deur Bacchus se nektar in my pens, sou ek seker nie ‘n oog toegemaak het in wat oor was van die nag nie. Ek was oortuig my gatvelle gaan waai hiervoor. Soos dit is het pa nooit weer ‘n woord oor daardie nag gerep nie. Elke keer as hy my geroep het was ek oortuig hierdie gaan die instruksie wees om vir hom in die garage te gaan wag (dis waar ek slae gekry het), maar dit het nie gebeur nie.

Ek dink tog dat ek moontlik net die fynste van kreukels om sy oë bespeur het as ek byna oor my voete geval het om sy elke opdrag onmiddelik en met spoed uit te voer in die dae en weke na daardie insident. Dalk was die oukêrel glad nie so onosel nie.